|
Welkom op die webplaas van Boer vir God.
Die webplaas is tans net in Afrikaans beskikbaar, maar daar kom ook 'n engelse weergawe "Farming For God"
Ek wil sommer uit die staanspoor sê dat Boer vir God nie net op boere gerig is nie. Enige persoon, hetsy jy 'n boer of 'n sakeman is, wat 'n kind van die Here is en Hom erken as jou Saligmaker en Verlosser, kan Boer vir God. Boer vir God is 'n aksie. Dit is 'n gesindheid van "ek wil vir God dien". So of jy kan help om fisiese kos of Geestelike kos by behoeftige mense uit te kry, sien jouself dan as 'n Boer vir God. Deur jou barmhartigheidsaksie Boer jy vir God.
Die Boer vir God inisiatief is deur God geïnspireer en het ontstaan deur ‘n roeping wat ek van God ontvang het in 2007. Lees meer oor dit onder “Meer oor Boer vir God”.
Boer vir God is as ‘n Artikel 21 Christelike Nie-Winsgewende-Maatkappy geregistreer (Registrasie Nommer 2010/004498/08) wat fokus op voedselvoorsiening in SA en Afrika aan alle kultuurgroepe waar daar nood is, asook Geestelike voedsel in die vorm van Evangelisasie en Bybelverspreiding aan alle kultuurgroepe.
Jesus het dit baie duidelik gestel aan die apostels voor Sy Hemelvaart Matteus 28:19 -20 “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld."
DOELWIT
Die doelwit van die webwerf is om ‘n Christen Voorsienings Netwerk te vorm met boere, maatskappye en individue om sodoende God se Koningkryk op aarde te bedien m.a.w om ‘n skenking by ‘n behoefte uit te bring. Die webwerf gaan dien as skakel tussen die Boere, Maatskappye, Vervoermaatskappye en individue en om die koördineering van die aktiwiteite te behartig en te bestuur. Die visie wat ek van God ontvang het is dat God Sy kinders wil gebruik om ander kinders van Hom te voed wat nie instaat is om hulself te voed nie.
Dink net aan die moontlikhede wat God kan laat begin gebeur as ons begin om die Koningkryk van God eerste te stel in ons lewens. Jesus sê self in Matteus 6:33 “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Ek nooi u uit om saam met my ‘n pad te stap en om deel te word van die Boer vir God netwerk waarin ons God se Koningkryk op aarde eerste sal stel.
Die Boer vir God Organisasie streef daarna om 'n gesindheidsverandering in Suid-Afrika te bewerkstellig ten opsigte van Barmhartigheid en Liefde teenoor ons naaste. Paulus beskryf dit so mooi in Kolossense 3:23 “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie”
Wil jy ook Boer vir God en 'n Boer vir God wees? Raak Betrokke Lees meer oor wat nodig is. Stuur 'n epos aan pieter@boervirgod.co.za as jy betrokke wil raak op watse wyse ook al. Saam kan ons as Christene mekaar versterk, ondersteun en bemoedig soos wat Jesus van Sy kinders verlang, maar ons moet hande vat en netwerk met mekaar.
|